Rudie se wens by Annetjie Welgemoedd

Rudie is baie ongelukkig waar hy in'n boom sit en tob. "Ek lyk nes 'n tak met 'n krulstertjie" dink hy vies, "so bruin en vaal dat niemand my eers raaksien nie! Net somtyds kry ek dit reg om ander kleure aan te trek, hoe werk dit dan tog? Ek wil nie meer 'n verkleurmannetjie wees nie, ek wil net 'n kleurmannetjie wees! Rooi Rudie sal ek myself dan noem, rooi is tog so mooi!"

Rudie en sy familie bly in 'n ver, ver land, Madagaskar, eintlik 'n eiland, 'n land binne-in die grote see. Hulle woon daar in 'n wonderwoud, 'n reenwoud wat skitter met druppende blare en wemel van springende, swaaiende, en die allersnaakste gediertetjies.

Daar bestaan 'n legende dat daar iewers in die wonderwoud 'n towerdwergie woon, wat indien jy hom kan vind, jou wense sal waarmaak. Om hom egter te vind, word vertel, dat jy baie dapper moet wees en fyn moet kan luister na die fluisterstemme van die woud.

Was dit nie vir sy krulstertjie nie het Rudie nou kaplaks uit die boom geval van pure opwinding. "Nou onthou ek van Wouter die towerdwerg van die wonderwoud roep hy bly! Ek gaan hom soek, en ek sal nie ophou soek todat ek Rooi Rudie is nie. Rooi Rudie met 'n klein tonggetjie nou dat ek daaraan dink, ek haat hierdie lang, taai tong!"

Rudie vertel opgewonde vir sy ouers van sy voorneme. Rudie se pappa raak eers rooi, dan blou, dan groen, en dan weer pers, so kwaad is hy! "Hoor ek reg? Nee, dit kan nie wees nie! Ek het nog nooit van iets so gek gehoor nie! Jy is 'n verkleurmannetjie Rudie, en ons is van 'n oeroue familie waarop jy trots behoort te wees! Daar is nie eers so iets soos 'n kleurmannetjie nie!" Sy mamma huil so dat die trane in stroompies uit haar ronde ogies loop, maar nie pappa se woede en verwyt of mamma se trane en gepleit kan Rudie van sy plan laat afsien nie.

So vetrek Rudie toe met 'n bondeltjie goggas vir padkos, sy oortjies gespits vir die stemme van die woud en 'n niksbang hartjie wat hoop op sy reis na 'n wens.

Voel-voel, beweeg Rudie teen 'n slakkepas dieper en dieper in die wonderwoud in. Hy is nou al dae lank van die huis af weg en baie moeg. Sover, kon geen enkele gediertetjie wat Rudie op sy tog ontmoet het, hom nog iets vertel wat hom in sy soektog kan help nie, en die stemme van die woud waarvan hy gehoor het, is tjoepstil. Sy goggatjies is al op, maar hy is so moeg dat wanneer hy sy lang, taai tong uitskiet om iets vir ete te vang, dit te laat is, en sy prooi gemaklik ontsnap. "Ek sal nie bang word nie en ek sal nie na mamma se goggabredie verlang nie en ek sal nie huis toe gaan voor ek Rooi Rudie kan wees nie", praat Rudie homself moed in.

Rudie word stadig wakker en rek hom behaaglik uit, hy het lanklaas so lekker nagrus gehad en voel sommer nou weer vol moed. "Vandag is die dag", dink hy. Woeps! Hierdie keer was die sprinkaan wat verbyhop te laat. Hy kelk die blaar naaste aan hom vir 'n koel slukkie water en vee sommer sy gesiggie skoon.

"Sjjjj, sjjjj, sjjjj"....Kaplaks! Hierdie keer val Rudie regtig uit die boom. Sy ogies draai om en om en sy hartjie klop so doef, doef, doef. Wat het hy gehoor, hy luister weer fyn..."Sjjjj, sjjjj, Wouter slaap nog Elfie en jy weet wat gebeur as ons hom wakker maak!"

"Wie, waar wat?!" Waar Rudie op die blarevloer van die woud lê, kan hy nie glo wat hy sien nie. Sommer hier skuins voor hom in 'n holte van die boomstam, vee 'n nukkerige kabouter met sy vuisies gebol die slaap uit sy pikswart ogies! "Wie durf dit om selfs te fluister as ek slaap!" 'n Klein elfie bewe in sy puntskoentjies en voor hy nog iets kan sê, verander hy voor Rudie se ogies in 'n swart kriek, wat voor hy nog kan sê kriek, op Rudie se lang, taai tong beland! "O, gonna, wat het ek nou gedoen", dink Rudie bang.

Wouter Kabouter se swart ogies rek groot en toe gebeur iets snaaks. Wouter begin lag, en lag so dat die trane oor sy rooi bolwangetjies rol, hy hou sy ronde magie vas en skop met sy voetjies soos hy lag! Rudie is so verbaas dat hy nie eers agterkom die kriek, of is dit nou die elfie, klou nog steeds aan sy tong nie. "Ghie, ghie, ghie", klou Wouter nog steeds sy magie vas. "Ek weet nie wanneer laas ek gelag het nie! Wie is jy en wat wil jy hê? Maak gou ek wil verder slaap!"

Huiwerig begin Rudie vertel. Wouter die Tower Kabouter luister aandagtig en glimlag toe skelm. "Goed Rudie, omdat jy my so lekker kon laat lag, sal ek jou wens bewaarheid", en skielik is Rudie se lang, taai tong en die kriek weg en vanaf Rudie se kop tot krulstertjie is hy bloedrooi, "Rooi Rudie, Rooi Rudie, juig Rudie bly. Wag tot my familie my nou sien, hulle gaan so trots wees op my! Dankie, dankie, Wouter, ek sal jou ewig dankbaar wees!" "Loop nou, sê Wouter kwaai, ek wil verder slaap!"

So begin Rooi Rudie se terugtog, nog steeds tydsaam en voel-voel. "Ek moes vir vlerke ook gewens het", dink Rudie, "dan was ek sommer vinnig by die huis." Teen donker, is Rudie baie honger en dors en hy begin rondkyk vir 'n slaapplekkie vir die nag. Lekker ingewikkel in 'n boom sit Rooi Rudie nou en wag vir een of ander goggahappie vir aandete. Net voor hom sit 'n sappige vet mot, maar wat dan nou? Sy lang taai tong skiet nie uit soos altyd nie! "O, ja...ek het vergeet." Rudie beweeg nader, maar die mot gewaar hom betyds en vlieg vinnig weg. Gou raak dit onder die goggas bekend dat daar niks te vrese is in die nabyheid van Rooi Rudie nie en dit raak 'n lekker speletjie om reg voor Rooi Rudie te gaan sit en hom dan laggend te ontwyk.

Rooi Rudie is teen hierdie tyd baie honger en skaam, vanaand slaap hy met 'n honger magie. Sy ogies wil net toeval, toe hy stemme hoor. Hy kyk verskrik rond en gewaar twee boomslange 'n entjie bokant hom. "Sien jy wat ek sien", vra die een boomslang vir die ander. "Daardie verkleurmannetjie probeer homself nie eers vir ons verkans nie, wat 'n maklike prooi!" Kaplaks! Rudie val alweer uit 'n boom van skrik, maar hierdie val het sy lewe gered. Hy sou nooit betyds van die boomslange kon ontsnap het nie! Rudie kruip vinnig onder blare weg en nou is hy baie bang.

Hy onthou vaagweg dat Pappa hom eendag vertel het van die geheime wapen wat verkleurmannetjies het om te kan wegkruip vir die wat hulle eet, en ook van die wat hulle wil eet..."Ek kan nie meer kleure ruil nie en nou is my tong ook nie meer taai en lank genoeg om kos te vang nie", huil Rooi Rudie verdrietig. "O, ek wens ek het nooit gewens nie", snik Rudie verdrietig.

"Rudie! Rudie! Word wakker my seuntjie! Jy droom." Pappa het net betyds gekeer dat Rudie nie kaplaks uit die boom geval het nie.

Iewers in die wonderwoud glimlag 'n towerdwerg skalks....

About the author:

Annetjie Welgemoed is the owner of Stick-It, a South African based company specializing in innovative uses of vinyl. Writing stories for her child is one of her hobbies. http://www.Stick-It.co.za .